Joey Haywood
Vraag |
Antwoord |
Het jy ‘n bynaam? |
Ja, ek het een. Dis SHREKIE. |
Waar woon jy? |
Ek woon in Mooinooi op ‘n plot op Barnardsvlei. Noordwes |
Watter genre skryf jy in? |
Ek hou liefdesverhale met positiewe boodskappe in. My gedigte is hartsgedigte uit ander se eina’s geskryf. |
Waar het jy grootgeword en hoe het dit jou skryfwerk beïnvloed? |
Ek is in Queenstown, Oos-Kaap gebore en het in Sterkstroom grootgeword. Omrede dit ‘n klein dorpie was, was daar nie juis veel om te doen nie, daarom het ek my gewend na lees en soms in die geheim skryf. Op skool was ek maar swak in opstelle skryf, omrede ek altyd die ander klasmaats eers gehelp het en dan eers myne geskryf het. Die gevolg? My punte is laag, want mens kan ook NET SOVEEL oor een onderwerp skryf! Nooit het die onnies dit vermoed nie! |
Wanneer het jy eers begin skryf? |
Dit was altyd my droom om eendag, voor my 50ste verjaarsdag, my eerste boek uit te gee. Ek het in 2014 Mooinooi toe getrek en dis hier waar my Hemelse Vader my begin seën het met ‘n laptop en die regte atmosfeer om in te skryf. Met my diere om my, kan ek regtig my hart op ‘papier’ neerlê. |
Wat is jou nuutste boek en waaroor gaan dit? |
My nuutste boek is DIE VISSER FAMILIE VAN BRAKPAN. Dit handel oor die familie se wel en weë. Maar, moenie van hul hond, Strepies, vergeet nie! Hy kuier ook prominent in sommige van die verhaaltjies. As jy hou van lag, is hierdie die boek vir jou. |
Het jy enige boeke gepubliseer wat nie op Malherbe Uitgewers se site is nie, en wat is die boeke? |
Malherbe uitgewers is mý rusplek vir my boeke. Saam sal ons ‘n pad stap. Daar is geen ander uitgewer vir my nie. |
Wat beteken jou lesers vir jou? |
Dit is vir my belangrik dat ek skryf waarin my lesers hulself kan verloor. Dat hul vir ‘n rukkie van hul eina’s kan vergeet en verlore raak in een van my boeke. Om hulle gelukkig te hou, is EK gelukkig. |
Waarmee werk jy aan volgende? |
Ek is tans besig met DIE GEITJIE. Dit handel oor ‘n regte ‘tomboy’ meisie, wat na ‘n perde-ongeluk so bietjie vergeet het wie sy is. Nou, dis HIER waar die probleem ens lê. WAT GAAN DIE GEITJIE ALLES AANVANG IN DIE NAAM VAN GEHEUEVERLIES? Dis ‘n goeie vraag. En die antwoord is: EKSELF HET NIE ‘N CLUE NIE! Jy sal die boek moet koop om te weet wat haar streke was! |
Wie is jou gunsteling skrywers? |
Sjoe! Daar is baie! Veral van die ouer garde. ENA MURRAY. Maar kom ons konsentreer meer op die jonger klomp. Ek is mal oor LIZA DANIELLS se skryfwerk. Haar manier van skryf, is absoluut uniek! |
As jy nie skryf nie, hoe spandeer jy jou tyd? |
Ek is baie lief vir musiek. Ek vermaak (rerig?) die katte wanneer ek lekker uit volle bors saamsing! |
Onthou jy die eerste storie wat jy ooit gelees het en die impak wat dit op jou gehad het? |
Ek dink dit was ‘n boek van ENA MURRAY, DIE BLINDE ORRELIS. Ek kon die boek net nie neersit nie. Alhoewel die hoofkarakter blind was, het dit hom nie gekeer om voluit te lewe nie, daarom probeer ek in my eie lewe om die beste van ‘n saak te maak, NO MATTER WHAT! |
Onthou jy die eerste storie wat jy ooit geskryf het? |
Ek was in st. 7 gewees toe ek die idee van KRONKELPAAIE gekry het. Ek het dit as ‘n kortverhaal geskryf en dit aan my Afrikaanse onnie, juffrou Brenda Nel, gegee en haar uitspraak was nie juis belowend nie. Ek het egter in my ‘storie’ geglo en amper 38jr later het ek die volle storie geskryf. En siedaar! Dit is ook my heel eerste boek wat gepubliseer is! |
Wat is jou skryfproses? Waar kry jy jou inspirasie vir ‘n storie? |
Ek beplan gladnie my stories nie. Die verhaal, intriges, speel hulself af soos ek skryf. Soms gaan daar weke om dat ek niks skryf nie, soos nou in DIE GEITJIE, want sy moet eers haar streke uitspeel voordat ek weer begin skryf. Dan is dit nag nella! |
Wat lees jy vir plesier en wie is jou gunsteling skrywer? |
Toe ek jonger was, kon ek maklik 4 boeke ‘n dag lees. Vandag kan ek egter nie, want ek het nog nie regtig ‘n boek gekry wat my van die begin af boei nie. Daarom lees ek nie graag nie. Soos bo vernoem, is ek mal oor LIZA DANIELLS se skryfwerk. |
As jy direk met jou lesers kon gesels, wat sal jy aan hulle wil sê? |
Maak nie saak wat in jou lewe gebeur het nie, moet nooit in jouself twyfel nie. Hou jou oë gerig op God en hou jou hand in Syne. Nooit ooit sal Hy jou hand los nie. As jy ‘n droom het in die lewe, moenie opgee nie. Al vat dit 50jr, daar droom sal realiseer. Wees geduldig. AS EK DIT KON DOEN, KAN JY OOK! |
Dit klink of die dak van die Staatsteater in Pretoria lig soos die gehoor hande klap. Soos een man staan hulle op en klap hande. Hier en daar klink ‘n wolwefluit op.
Die rede vir die oorweldigende applous is Retha Visser, die pragtige klein ballerina. Sal dit die laaste aand wees vir Retha?
Lees hierdie hartroerende verhaal van hoe ‘n mens se lewe in een sekonde kan verander....
Sonja Jordaan staan op die boonste trappie van die stoep van haar nederige huisie in Rouxville, ‘n klein Vrystaatse dorpie. Hartseer kyk sy hoe Marius, haar man van ses jaar, die bakkie vol kampeertoerusting pak. Marius en hul vyfjarige seuntjie, Arno, gaan bietjie 'manne-naweek' hê. Die laaste vir hulle, want Sonja is hoogswanger met 'n tweeling. Sy kan nie saamgaan nie, want die paaie is baie rof by die rivier, so vyftig kilometer van Rouxville af, waarheen hulle gaan. Ou Anna, hul betroubare bediende, gaan vir die naweek inslaap om na Sonja te kyk.
'Marius, my Lief, ek is bang!' roep sy na haar besige man.
Verbaas los Marius als en stap vinnig na haar toe. 'My Vrou, dis onnodig. Als gaan reg wees. Dis pragtige weer, die bakkie is hersien, ons het genoeg kos en ons slaap in die bakkie. Al wat gaan kort, is jy, my Skat!' Hy neem haar in sy arms en hou haar styf vas......
Sag hou Gert Brink sy vrou se hand vas. Trane stroom oor die groot man se wange. ‘Lief, asseblief, moenie my alleen los nie! Ek kan nie sonder jou nie,’ snik die groot man die woorde uit.
‘My Man, dis…’ Christa Brink sukkel om te praat.
‘Sjuut, nie nou praat nie, my Skat,’ maak Gert sy vrou stil.
‘Nee,’ begin Christa hortend praat. ‘Ek moet. Jy moet belowe…’
Gert leun vorentoe om sy vrou se fluisterstem te kan hoor. ‘Enigiets, my Lief, enigiets.’
‘Noem ons seun Johan Petrus. Kyk mooi…’ Verder kom Christa Brink nie. Sag blaas sy haar laaste asem uit....
Santie Viljoen lê opgekrul op die papierdun matras. Sy bibber van die koue. Al wat beweeg, is haar oë. Sy sien hoe die ander vrouens, van elke kleur en geur, rondskarrel om die enigste toilet en wasbak wat daar is, te gebruik. Skielik voel sy ‘n warm hand op haar been. Sy ruk van die skrik en kyk op. Dis ‘n swart bewaarder.
‘Kom, hulle soek jou daar bo,’ sê sy. Wat sal die toekoms vir Santie inhou?
Sal sy uit die tronksel kan kom?
Elke mens het liefde in die lewe nodig. Soms is dit ‘n verlore liefde, soms is dit ‘n liefde aan die dood afgestaan. Moet nooit, ooit dink dat jy nie liefde in jou lewe het nie, want daar is geen mens wat kan se dat hy/sy nog nooit God se Liefde ervaar het nie! Kyk om jou rond, elke blaar, elke druppel reën, alles word aan ons, nietige mens, gegee, deur Hom wat ons onvoorwaardelik lief het. Hy wat sy EIE Seun gegee het om vir jou en my te sterf, omrede ons so bitter waardevol is vir Hom!
Elke gedig is geskryf vir iemand wat dalk seer gehad het. Wat dalk gevoel het niks is meer die moeite werd nie. Wat ‘n geliefde, hetsy ‘n eggenoot of kind, aan die dood afgestaan het. Deur hierdie woorde namens ander te kon skryf, het ek ‘n glimpie in die persoon se hart gehad, het ek net ‘n aks gevoel van wat die persoon werklik gevoel het. Dit was vir my soms baie traumaties gewees om sekere gedigte te skryf. Ek het myself ingeleef in die persoon se seer. Ek het dae om gesit en huil oor iemand wat ek glad nie geken het nie! Dan het ek myself gevra: as EK so gevoel het, hoe moes die persoon dan nie gevoel het nie? Wat ek probeer sê, is: in hierdie digbundel is jou seer ook my seer, is jou geluk ook my geluk, is jou verwerping ook my verwerping.
Die Vissers van Brakpan (Humor)
Joey Haywood het die gawe om die alledaagse en gewone in humor te omskep en sy slaag goed daarin om die lagspiere te prik in hierdie bundel kortverhale. Joey ontbloot in hierdie bundel die kern van die lewe self.