Taai Bonthuys

Taai Bonthuys

Vraag

Antwoord

 

Het jy ‘n bynaam?

 

 

Ja, my pa het my van kleintyd af die bynaam Taai gegee en dis hoe al my familie en vriende my ken.

 

Waar woon jy?

 

 

Ons boer in die Daniëlsrus Distrik, tussen Bethlehem en Reitz in die Oos Vrystaat.

 

Watter genre skryf jy in?

 

 

Ek hou daarvan om in verskillende genres te skryf.

 

Waar het jy grootgeword en hoe het dit jou skryfwerk beïnvloed?

 

 

Ek is ‘n gebore en getoë oud Kapenaar (Bellville) waarna my familie in die middel tagtiger jare Durban toe verplaas is en ons, ons in Amanzimtoti toe gevestig het. In 2004 is ek getroud met ‘n boer en woon sedertdien in die Oos Vrystaat. Ek het eers nou onlangs begin skryf en maak gebruik baie van my kinderdae se herinneringe en ervarings.

 

 

Wanneer het jy eers begin skryf?

 

 

Twee jaar terug met die ontydige dood van ‘n vriendin. Dit het als begin met ‘n gedig wat ek vir haar geskryf het die dag na haar dood wat ek op facebook geplaas het en soos hulle sê die res is geskiedenis.

 

 

Wat is jou nuutste boek en waaroor gaan dit?

 

My nuutste novelle verskyn in die omnibus: Liefde is ... , getiteld: Fluisteringe van die hart. Dit gaan oor ‘n vrou, wie skielik in finansiële verknorsing gedompel is na haar man se ontydige dood. Sy doen aansoek om ‘n navorsings pos sodat sy haar oorlede man se skuld kan afbetaal, maar stamp kort-kort koppe met haar nuwe baas. Hulle reis na die reënwoud van Zaire om sy navorsingswerk oor die Biloko stam voort te sit. Dit kos ‘n slangbyt deur ‘n Gaboon Adder om dinge op ‘n punt te dryf en die persoon wat haar deurentyd af gepers het aan die kaak te stel.

Ek het sopas nog ‘n novelle klaar geskryf wat nog nie gepubliseer is nie.

 

 

Het jy enige boeke gepubliseer wat nie op Malherbe Uitgewers se site is nie, en wat is die boeke?

 

 

Nee , ek het nog net deur Malherbe Uitgewers gepubliseer.

 

Wat beteken jou lesers vir jou?

 

 

My lesers is vir my baie belangrik omrede ek vir hulle skryf in die hoop dat hulle dit net so geniet as wat ek dit geniet het om te skryf.

 

Waarmee werk jy aan volgende?

 

 

Ek skryf aan twee verhale op die oomblik. Die een is ‘n tienerverhaal wat in ‘n koshuis afspeel en die ander is ‘n romantiese novelle wat op die platteland afspeel.

 

 

Wie is jou gunsteling skrywers?

 

 

Daar is so baie skrywers waarvan ek hou. Wilbur Smith, Daleen Matthee, Ena Murray, Francine Rivers, Karen Kingsbury, Thomas Hardy, JK Rowling om net ‘n paar te noem.

 

 

As jy nie skryf nie, hoe spandeer jy jou tyd?

 

 

Ek hou daarvan om te skilder, met my mik-en-druk kamera rond te speel, saam my man te boer op naweke en in skoolvakansies op die plaas en dan smiddae ry ek die kinders rond na al hul aktiwiteite alvorens ons saans die pad terug vat plaas toe.

 

 

Onthou jy die eerste storie wat jy ooit gelees het en die impak wat dit op jou gehad het?

 

 

Dit was kinderverhale en dit het my net lus gemaak om meer en meer te lees. My oorlede oupa het ‘n boekrak gehad wat van muur tot muur gestrek het en ek kon my verloor in daardie boeke se wêrelde wat elke skrywer geskep het. 

 

Onthou jy die eerste storie wat jy ooit geskryf het?

 

 

Ja, dit was ‘n prosa wat ek moes skryf vir ‘n kompetisie.

 

Wat is jou skryfproses? Waar kry jy jou inspirasie vir ‘n storie?

 

 

Dit hang af. Partykeer is dit net ‘n idee wat by my opkom, of iets wat met my of iemand wat ek ken gebeur wat die inspirasie is. Van daar af doen ek my hele storie uitleg en beplanning, waarna ek met my navorsingswerk sal begin, want jy wil nie met ‘n rooi gesig daar staan as jou feite, ter stawing van die storie se gebeure, nie reg is nie.    

 

 

Wat lees jy vir plesier en wie is jou gunsteling skrywer?

 

 

Enigiets van romanse tot ware verhale. Ek hou ook baie van ‘n boek wat jou tone-krul-lekker laat lag en ook ‘n goeie speurverhaal. Ek het ‘n hele paar gunsteling skrywers, te veel om op te noem.

 

As jy direk met jou lesers kon gesels, wat sal jy aan hulle wil sê?

 

 

Daar is drie dinge wat ek graag aan my lesers sal wil sê: Eerstens: Droom groot en as jou drome jou nie bang maak nie, droom jy nie groot genoeg nie. Tweedens: As jy nie die eerste tree neem nie, sal jy nooit weet wat kon gewees het nie. Derdens: Gryp elke geleentheid met albei hande vas en leef voluit.

 

Jy is meer as welkom om my te kontak by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.