Lilian Jonker

Lilian Jonker

 

 

Vraag

Antwoord

Het jy ‘n bynaam?

As kind en as tiener het ek vreeslik baie byname gehad. As kind het my ouers en familie my altyd ‘bakkie’ genoem, omdat ek vreeslik opgewonde gelyk het as baba wanneer hulle ‘n bakkie met pap naby my bring. Op skool het baie mense my ‘kortes’ genoem want iemand met die lengte van 1.58 kan nou nie as lank beskou word nie. Vandat ek uit die skool uit is noem meeste mense my maar Lilly, omdat die naam Lilian hulle net daaraan laat dink.

 

Waar woon jy?

Ek woon in Germiston, dit is ook waar ek groot geword het. Eendag sale k dit graag wil verander. Ek is iemand wat nog wil reis en die hele wêreld wil gaan sien. As dit verniet was om te reis was ek lankal nie meer hier nie. ‘n Plek wat ek nog altyd wou besoek is Frankryk. Ek wou selfs op ‘n stadium begin ‘au pair’ oorsee ,maar het daarteen besluit.

 

Watter genre skryf jy in?

Ek skryf nie net in 1 genre nie en om eerlik te wees, ek probeer om my gedigte so te skryf dat dit soveel genres as moontlik dek. Ek wil hê dat my gedigte my lesers moet aanraak en dat hulle besef ons almal beleef soms hartseer en kronkel paaie in ons lewens. Ek wil hulle ook laat sien daar is tog ook die mooi in die lewe bv om lief te hê. Ek wil skryf oor die goeie en die slegte. Die eenvoudige en die komplekse.

 

Waar het jy grootgeword en hoe het dit jou skryfwerk beïnvloed?

Ek het nog altyd in Suid-Afrika gebly, Germiston om spesifiek te wees (ek het dit al genoem). Dit het my skryfwerk vreeslik baie beinvloed. Nie so baie dat ek in Germiston bly nie, maar eerder die feit dat ek in Suid-Afrika bly. Baie van my gedigte handel oor moorde, geweld, misdaad, die pyn en hartseer wat die samelewing vir ons bied. Hierdie land en die samelewing gaan vir my daagliks agteruit elke persoon is maar op sy eie, ek voel net almal moet ophou baklei dit is in tye soos hierdie waar dit nodig is dat almal moet saamstaan ongeag ons verskille.

 

Wanneer het jy eers begin skryf?

Ek het begin skryf toe ek in die hoërskool was. Ek het geskryf oor al my ervaringe goed en sleg, want ek het gevoel dis ‘n goeie manier om my gevoelens te uiter sonder om iemand daarvan te vertel. Na skool het ek al die gedigte weggegooi wat ek op skool geskryf het, omdat ek nooit gedink het dat dit iewers sal kom nie. Dit het my net geleer dat ‘n mens nooit in jouself moet twyvel nie. Jy sien dalk nie jou eie potensiaal nie, maar daar is mense daar buite wat wel doen. Maak nie saak hoe klein nie, ‘n begin is ‘n begin.

 

Wat is jou nuutste boek en waaroor gaan dit?

My digbundel ‘perspektief’ is my eerste en enigste digbundel sover. Ek beplan om in die toekoms nog bundels na vore te bring. Perspektief handel oor verskillende onderwerpe. Van die gedigte is liefdesgedigte wat handel oor liefdesteleurstellings asook die mooi as dit kom by liefde. Daar is gedigte wat handel oor hoe die land op die oomblik lyk die positiewe asook die negatiewe. Daar is selfs gedigte waar ek net al my gevoelens uitlaat oor wat ek nodig het, wat in my kop aangaan ens.

 

Het jy enige boeke gepubliseer wat nie op Malherbe Uitgewers se site is nie, en wat is die boeke?

 

Geen

Wat beteken jou lesers vir jou?

My lesers beteken die wêreld vir my. Hoe is ‘n outeur ‘n outeur as hy geen lesers het nie? Die lesers maak die skrywer. Ek wil ‘n impak op al my lesers se lewe hê, maak nie saak hoe klein nie. Ek wil hê dat my gedigte my lesers laat besef hulle is nie die enigstes wat deur moeilike tye gaan nie, ons almal het hierdie tye wat ons voel ons kan nie meer aangaan nie. Ek wil my lesers inspireer om ‘n pen op tetel sodra hulle so voel en al hulle emosies neer te skryf. Dit laat mens dadelik beter voel. As jy dit doen kyk jy dalk later na wat jy geskryf het en besef jy het ‘n talent waarvan jy nooit geweet het nie. Dalk is jy die volgende Ingrid Jonker en jy weet dit nie eers nie?

 

Waarmee werk jy aan volgende?

Op die oomblik werk ek nog nie aan ‘n volgende bundel nie. Meeste van my tyd gebruik ek nou vir my studies, hulle sê mos die laaste jaar is die moeilikste. Ek wil in die toekoms nog ‘n digbundel bied met nog van my ervaringe as dit kom by die lewe. Ek sal nooit op een tema of genre besluit nie, ek sal eerder elke ervaring gebruik (goed of sleg) om, om tesit in woorde en ‘n storie te kan vertel vir my lesers.

 

Wie is jou gunsteling skrywers?

Ek is mal oor Ingrid Jonker se gedigte, al waarvan ek nie hou nie is die feit dat al haar gedigte so morbied is, maar as mens na haar lewe gaan kyk besef ‘n mens ook hoekom dit so was. Dawid Nel is ook ‘n digter wat my daagliks inspireer veral sy eerste digbundel met die naam ‘My kop se kreatiwiteit’. Hy is ‘n mede student en ‘n steunpilaar. Sy gedigte laat jou sommer perspektief verander as dit kom by sekere sake. Hy is definitief een van die talentvolste skrywers wat ek ken, al is hy nog nie vreeslik bekend nie.

 

Wat is jou skryfproses? Waar kry jy jou inspirasie vir ‘n storie?

Ek sit nooit en beplan waarooor ek wil skryf of ‘n sekere onderwerp wat ek dalk probeer dek nie. Soms sit ek net en gesels met iemand dank om daar ‘n gedagte op in my kop, dalk twee sinne wat die begin kan wees van ‘n mooi gedig dan skryf ek dit dadelik neer. Sodra ek die eerste twee sinne het kom die res natuurlik. Ek skryf net neer soos daar woorde in my kop inkom en voor ek weer sien het ek ‘n gedig. Soms dra stories by wat ander my vertel het, dalk iets wat ek gesien of beleef het dan skryf ek daaroor ook.

 

As jy direk met jou lesers kon gesels, wat sal jy aan hulle wil sê?

Ek sal vir my lesers wil sê dat geen woorde kan beskryf hoeveel dit vir my beteken dat hulle belangstel aan my digkuns nie. Ek sou niks wees sonder hulle nie. Ek hoop dat my gedigte ‘n waardevolle boodskap kan oordra aan my lesers en hulle verder laat dink oor sekere sake. En ek sal mal wees daaroor as my lesers selfs ietsie skryf en aan my stuur, sodat ek bietjie die leser kan wees. Niemand se gedigte is ooit nutteloos nie, dit sal altyd iets vir iemand beteken. Almal het die vermoë om te dig, dis net min mense wat bereid is om die kans te waag.

 

 

 

 

This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. 

 

 

Add comment


Security code
Refresh