Hoe lekker is dit nie om ’n skoolhoof te hê met empatie en goeie sin vir humor nie. Janet oorreed hom om hulle toe te laat om ’n sokkie-sonder-skoene te hou en hy knip gaatjies in sy sokkies sodat al sy tone uitsteek. Later skeer hy ook soos ’n klompie leerders al sy hare af toe een van die leerders deur kanker-behandeling gaan en vang saam met die seuns hoenders in die hoofstraat. Meneer Plankies en juffrou Alta kom uiteindelik tot trou en daar word ’n makietie-sokkie vir hulle by die skool gehou. Janet se filistyn word gekies as Rugbykaptein van die Provinsiale skolespan en al die maats maak groot besluite oor hul toekoms.
Die vriendskapsbande en familiebande word versterk deur al die drama’s wat in Bashoek afspeel maar die tieners is dit eens: Local is lekker!